Xanthe Hancox 

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! Jeremia 29:11, 1983-vertaling

Dit wil voorkom asof 2023 die jaar van KI is. Kunsmatige intelligensie, wat enigiets kan doen van die bou van 'n webwerf in sekondes tot die skep van musiek of beelde deur die gee van 'n eenvoudige opdrag, is nou vir almal beskikbaar. Ek persoonlik, vind die pas van tegnologiese veranderinge opwindend, maar terselfdertyd angswekkend – en definitief oorweldigend. Dit is soos 'n heel nuwe wêreld.

Die Israeliete wat eerste hierdie woorde van Jeremia gehoor het, het ook baie uitdagings in hulle tyd beleef. Hulle is deur die Babiloniërs in ballingskap weggevoer, weg van hulle vaderland en hulle manier van leef. Hulle het hulle in 'n vreemde land bevind, omring deur 'n ander kultuur en denkwyse. Dit moes groot onsekerheid en angs tot gevolg gehad het.

In 'n steeds veranderende wêreld vol onsekerheid, bied hierdie teksvers ons troos en gerusstelling. Dit herinner ons dat dit nie saak maak waardeur ons gaan nie, God het 'n plan met ons lewens.

Self te midde van hulle stryd, het God 'n plan vir hulle toekoms gehad. Agter die skerms was Hy aan die werk om sy volk te herstel en aan hulle hoop te gee. Op dieselfde manier het Hy 'n plan vir ons, ten spyte van enige uitdagings wat ons moet hanteer.

So kom ons put vandag troos uit die wete dat God altyd aan die werk is, selfs wanneer ons dit nie kan sien nie. Kom ons vertrou Hom om ons te lei, selfs wanneer die wêreld om ons heeltemal verander. Kom ons bid dat ons die nodige geloof sal hê om, net soos die Israeliete baie jare gelede, in sy plan vir ons lewens te kan glo.

Gebed: Liewe Heer, dankie vir u belofte in Jeremia29:11. Dankie dat U 'n plan met ons lewens het, selfs wanneer alles so onseker lyk. Help ons om U te vertrou en u leiding te volg en gee dat ons sal besef dat U ons belange voorop stel. Gee aan ons die geloof om in u plan vir ons lewens te glo, selfs wanneer ons dit nie kan sien nie. Amen

Xanthe Galanis

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Galasiërs 5:22-23(a)

Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon geeOpenbaring 2:10 (b)

Alle goeie verhoudings word gebou op getrouheid. 'n Vrou en man wat getrou is aan mekaar is noodsaaklik vir 'n goeie huwelik. In 'n goeie vriendskap is mense getrou aan mekaar. Goeie werksverhoudings vind plaas wanneer kollegas mekaar kan vertrou. Getrouheid is ook noodsaaklik in ons verhouding met God.

Ons verwys dikwels na die getrouheid van God. Wanneer ons 'n reënboog sien word ons daaraan herinner dat Hy getrou is en sy beloftes sal hou. Maar wat van ons eie getrouheid? Behalwe vandag se vers uit Openbaring is daar baie Skrifgedeeltes wat ons daarop wys dat ons getrou moet wees: 1 Korintiërs 4:1-2 wys ons daarop dat ons getroue dienaars van Christus moet wees, Efesiërs 6:21 verwys ook na getroue dienaars en in 1 Timoteus 5:9 word daar na getrouheid in die huwelik verwys.

Getrouheid, om altyd op God te vertrou, word dikwels gesien as iets wat ons doen. Baie mense dink aan getrouheid as 'n soort sinoniem vir vasberadenheid, 'n gesindheid wat ons kan aanleer eerder as 'n produk van die Gees van God wat in ons woon. Paulus maak dit egter duidelik dat getrouheid 'n geskenk van die Heilige Gees is.  Die Heilige Gees wat in ons kom woon wanneer ons ons sondes bely en tot bekering kom, verander ons karakter van binne en maak ons getrou.

Dit is slegs deur die Heilige Gees dat ons oor die liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid en goedhartigheid kan beskik wat ons as Christene behoort te hê.  Net so is dit net deur die Helige Gees dat ons die soort getrouheid kan hê wat ons in staat stel om volkome op God te vertrou, Hom te gehoorsaam en om altyd, wanneer ons verkeerd doen, ons sondes teenoor Hom te bely.

Gebed: Here, dankie vir u getrouheid. Leer my deur u Woord en help my deur u Gees om in alles getrou te wees. Amen

Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Christene behoort te werk. Miskien werk jy êrens vir 'n salaris, miskien versorg jy jou gesin of miskien is jy reeds afgetree.  Dit maak nie saak wat ons doen nie, ons mag nie lui wees nie.

Die Bybel leer ons dat wyse mense hard werk en die vrugte van hulle arbeid pluk; lui mense is dwaas en kom nêrens. Dis belangrik om deur eerlike werk in ons eie daaglikse behoeftes te voorsien.

In Spreuke word daar heelwat oor harde werk gesê. Een beeld wat koning Salomo gebruik om ons oor harde werk te leer, is die van die mier:

"Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy het nie 'n leier nie, nie 'n opsigter of 'n regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd. Hoe lank gaan jy nog lê, luiaard, wanneer gaan jy opstaan?" Spreuke 6:6-9

Hier volg nog 'n aantal tekste uit Spreuke wat dit duidelik stel om lui te wees gaan jou nêrens bring nie:

"Hardwerkende mense kom in magsposisies; lui mense word dwangarbeiders." Spreuke 12:24

"'n Deur bly op sy skarnier draai; 'n luiaard bly omdraai op sy bed."Spreuke 26:14

Die luiaard steek sy hand in die skottel, maar hy is te lui om dit terug te bring na sy mond toe."  Spreuke 26:15

Werk vandag tot eer van God.

Gebed: Here, help my om nie lui te wees nie. Gee dat ek hard sal werk tot eer van u Naam. Amen

Louise Gevers

“Dan moet die man wat op die dakstoep sit, nie ingaan om sy besittings in die huis te gryp nie. Net so moet ook die man wat op die land is, nie omdraai huis toe nie. Onthou wat met die vrou van Lot gebeur het!  Lukas 17:31-32

Dit is wonderlik dat Jesus oor Lot se vrou praat, maar sy woorde oor haar is 'n waarskuwing aan diegene wat na hom luister. In die volgende vers sê Hy: "Elkeen wat sy lewe probeer behou, sal dit verloor, maar elkeen wat dit verloor, sal dit behou." Hierdie stelling mag dalk vir ons 'n raaisel bly todat 'n mens in die konteks van Lot se vrou daarna kyk. Sy het omgekyk en haar lewe verloor.

In die Genesis weergawe word Lot se vrou vir die eerste keer genoem toe die engele by Lot aangedring het om die verdoemde stad met haar en hulle twee dogters te verlaat. Ongelooflik, maar sy is klaarblyklik nie haastig nie, ten spyte van die engele se opdrag en die feit dat sy gehoor het hoe Lot hulle dogters aanbied in 'n poging om die onregeerbare bende tot bedaring te bring. Sy het ook gesien hoe die engele Lot die huis in trek, die bende mans laat blind word en sy het geweet dat Lot hulle toekomstige skoonseuns gaan waarsku het om saam met hulle te ontsnap.

En tog, ten spyte van al hierdie getuienis en die duidelike waarskuwing van God se naderende oordeel, ignoreer sy tog die engele se waarskuwing “Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie! Moenie êrens in die vlakte vertoef nie, vlug berge toe, anders word jy omgebring.” (Genesis 19:17) Lot se vrou het egter omgekyk na die verwoesting van die stad en sy het in 'n soutpilaar verander. Sy is baie duidelik 'n geleentheid aangebied om aan die verwoesting van die stad te ontkom – die keuse was hare – maar, soos Lot, was dit vir haar moeilik om haar gemak, al die luukshede en status agter te laat. Alhoewel sy as 'n Sodomiet, miskien nie heeltemal Lot se geloof aanvaar het nie, het God se genade, oor sy verhouding met Abraham, ook vir haar, Lot en hulle gesin ingesluit.

God doen altyd wat Hy sê Hy sal doen, maar in hierdie geval sien ons hoe sy oordeel deur sy genade getemper word. Die Here bewys ongelooflike geduld deur wel minder as tien regverdige mense uit die verdorwe stad te red, maar uiteindelik red Hy nie die een wat nie gered wil word nie. Dit bring ons terug by Jesus se woorde: "Onthou wat met die vrou van Lot gebeur het!"

Gebed: Hemelse Vader, heilig my sodat ek nie myself sal mislei nie, maar duidelik my sondige aard en my behoefte aan U sal kan sien. Help my om nie vas te klou aan die verlede nie, of te verlang na dinge wat skadelik vir my is nie, of so vasgeheg te wees aan die gemak van hierdie wêreld dat ek selfs in tye van nood nie bewus is van u teenwoordigheid nie. Help my om altyd bewus te bly van u liefde en genade, en help my om U te dien. In die Naam van Jesus.  Amen

linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram