Ewald Schmidt 

“Hierdie dinge het Ek vir julle gesê sodat julle nie sal struikel nie. Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Daar kom 'n tyd dat elkeen wat vir julle doodmaak, sal dink dat hy 'n diens aan God bewys.En hulle sal dit doen, omdat hulle die Vader nie ken nie, en My ook nie. 4Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer hulle tyd aanbreek, julle kan onthou dat Ek dit vir julle gesê het.” Johannes 16:1-4. 2020-vertaling

Ons wil so graag hoor dat ons toekomspad mooi gaan wees, want ons volg in Jesus se voetspore as sy dissipels. Ons glo dat daar deur sy wonde vir ons genesing gekom het (Jesaja 53:5) Ons glo dat die Here voorsien in alles wat ons nodig het om te lewe, en Hom te dien (2 Petrus 1:3) Dit is alles waar.

Tog beleef God se kinders steeds moeilike tye in hierdie wêreld. As ons mooi nadink oor Jesus se woorde, het Hy nooit belowe dit gaan maklik wees om Hom te volg nie. Hy het gesê die poort na die lewe is nou, die pad na die hemel is smal. (Matteus 7:14) Hy het gewaarsku: wie Hom wil volg, moet bereid wees om sy eie kruis op te neem, en sy ou lewe te versaak om agter Jesus aan te stap (Matteus 16:24)

Jesus berei sy toekomstige kerk ook voor op moeilike tye, soos die eindtye nader beweeg. Hy het juis gewaarsku dat dit erger gaan word. Mense gaan ander doodmaak in die naam van godsdiens, en dink hulle bewys God 'n guns deur te moor. Die geskiedenis het hierdie voorspelling waar bewys, en dit gaan steeds voort vandag. Mense is bereid om hulle naaste, wat anders as hulle glo, dood te maak en te dink dit sal God behaag. Jesus waarsku in Johannes 16:3 dat mense wat dink aan moord pleeg nie die Vader ken nie, en ook nie Jesus nie. Die Vader het dan juis vir Jesus uit liefde gestuur om die wêreld te kom red (Johannes 3:16 en 15:9) Die hart van die evangelie van Jesus is liefde vir God, en vir my naaste. Daar is geen rede om jou naaste te vervolg en te vermoor in die Naam van die Here nie! Ons staan dikwels skaam oor wat al in die kerkgeskiedenis plaasgevind het in die Naam van die Here, soos die kruistogte en die Spaanse Inkwisisie. Jesus se boodskap is die goeie nuus vir die hele wêreld, die belofte van nuwe lewe deur geloof in 'n liefdevolle, genadige God.

Jesus waarsku: vervolging en moeilike tye is nie onverwags in die kind van God se lewe nie. Hulle het Hom dan net so vervolg, ons kan nie anders verwag nie. Maar dit spoor ons aan om met nog meer liefde uit te reik, en met die wêreld rondom ons die lig van Jesus te deel.

Gebed: Here, elkeen van ons het al seergekry deur mense wat in u Naam verkeerde dinge gesê en gedoen het. Bewaar my daarvan dat ek nooit geweld en haat in u Naam goedkeur nie, maak my juis 'n boodskapper van u liefde en u hoop in hierdie uitdagende tye. Amen.

Xanthe Galanis

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.  Galasiërs 5:22

"Ek kan nie glo ek het dit al weer gedoen nie!"  Hoeveel keer het jy dit nie al vir jouself gesê nie? Ons probeer om ons woorde en aksies te beheer, maar daar is altyd daardie goed wat ons irriteer en dan gee ons toe aan die versoeking.  Almal, Christene en nie-Christene, voer lewenslank hiermee 'n stryd.  Maar die van ons wat Christus se geskenk van verlossing aangeneem het, beskik oor die krag om ons situasie te verander – aan ons is die krag bo alle menslike vermoë gegee.

Die finale aspek van die vrug van die Gees wat ons bespreek, is die vermoë om ons gedrag te beheer. Die Engelse King James Bybel gebruik die woord 'temperance' wat met 'matigheid' vertaal kan word.  Die Afrikaanse "Die Bybel vir almal" gebruik die woord 'kalm', maar die meeste Bybelvertalings, insluitende die Afrikaanse 1933/53- en die 1983-vertaling gebruik selfbeheersing.  Selfbeheersing is nie wilskrag nie. Dit is vasberadenheid om beter te doen.  Om egter van die "eie ek" te verwag om homself te beheer, is soos om van 'n jakkals te verwag om die hoenders op te pas, dit is nie iets wat natuurlik kom nie. Ons moet deur die Gees beheer word sodat God in ons kan regeer.

In die eerste brief aan die Korintiërs sê Paulus: "Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan." (1 Korintiërs 10:13) Hierdie gedeelte is genoegsame bewys dat ons heeltemal in staat is om hierdie aspek van die vrug van die Gees, selfbeheersing, in ons lewens te openbaar. Selfbeheersing beteken nie dat ons ons bes moet probeer om nie te sondig nie. Selfbeheersing, soos al die ander aspekte van die vrug van die Gees, word bekom deur ons lewens aan die Heilige Gees oor te gee.

Gebed: Vader, help my om die selfbeheersing wat U van my verwag, te beoefen. Ek wil nie terugval op my ou weë nie. Ek wil vir U leef. In Jesus se Naam. Amen

Nina Smit

Laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Hou Hom voor oë. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

~ Hebreërs 12:1-3

Die Hebreërskrywer beskryf geloof as ’n wedloop waarin ons nie mag uitsak nie, maar terselfdertyd ’n wedloop wat slegs enduit volgehou kan word as ons oë op Jesus, die Begin en Voleinder van ons geloof gerig sal bly. Atlete wat omkyk-omkyk hardloop sal nooit eerste by die wenpaal aankom nie. In die wedloop van geloof is dit presies dieselfde: om hierdie wedloop te wen, is dit nodig om aan te hou en uit te hou en voortdurend net na Jesus te kyk. Net dán sal jy die wedloop van geloof as wenner kan voltooi.

“Weet julle nie dat atlete wat aan ’n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen,” skryf Paulus aan die gemeente in Korinte (1 Korintiërs 9:24). In ’n gewone wedloop is daar net één eerste prys, en daar is ook net een atleet wat die wedloop kan wen. Maar in die wedloop van die geloof is dit anders. In hierdie wedloop kan élke atleet ’n wenner wees, kan elkeen wat die wedloop hardloop, die prys ontvang. Maak seker dat jy só sal hardloop dat die prys van die geloofswedloop – die ewige lewe – uiteindelik joune sal wees.

Here, help my om my wedloop van geloof voluit te hardloop, met my oë heeltyd op U gerig sodat die prys uiteindelik myne sal wees. Amen

Neville Turley

Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.  Galasiërs 6:9

Ons is almal op een of ander manier saaiers. Elke dag, deur ons woorde en dade saai ons die saad van vriendelikheid of onvriendelikheid. Ons saai saadjies wat iemand laat glimlag en hom gelukkig maak of saadjies wat trane en wanhoop veroorsaak. Ons woorde en ons dade het 'n invloed op ander, of ten goede of ten kwade.

Die eerste gelykenis wat Jesus volgens Matteus vertel het, is die gelykenis van die saaier wat uitgegaan het om te saai. 'n Deel van sy saad het op die pad geval, sommige op die klipbanke en tussen die onkruid en 'n deel het in die goeie grond geval. Slegs die saad wat in die goeie grond geval het, het 'n oes gelewer. (Matteus 13:3-8)

Die dissipels het Hom toe gevra hoekom Hy met die skare in gelykenisse praat. Jesus het toe verduidelik dat aan hulle is gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan diegene vir wie dit nie gegee is nie, verduidelik Hy dit in gelykenisse.

Toe het Jesus die betekenis van die gelykenis van die saaier verduidelik. (Matteus 13:18-29) Hy het die saad wat gesaai is, met die woord van God vergelyk. (Lukas 8:11)

As medewerkers met Christus is elke Christen 'n saaier. Deur ons woorde en dade saai ons die woord van God. Met tye sal ons diep teleurgesteld wees want nie al die saad wat ons saai word goed ontvang nie. Ons kan soms 'n klap in die gesig of verwerping verwag, maar ons moet volhard.

Ons mag miskien nooit in ons tyd hier op aarde die resultaat sien van die saad wat ons saai nie, maar eendag sal ons dit wel sien.

"Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het," skryf Paulus. (1 Korintiërs 3:6) Paulus en Apollos het hulle taak voltooi. Nou is dit ons beurt om hande te vat en in God se oesland te plant.

Kom ons doen dit in die geloof. Daar is werk om te doen.

Gebed: Hemelse Vader, gee dat ons deur u Heilige Gees die saad van u woord sal plant. In die Naam van u Seun, Jesus Christus. Amen

linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram