Hou jou oë op Jesus

Hou jou oë op Jesus

Nina Smit

Laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Hou Hom voor oë. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

~ Hebreërs 12:1-3

Die Hebreërskrywer beskryf geloof as ’n wedloop waarin ons nie mag uitsak nie, maar terselfdertyd ’n wedloop wat slegs enduit volgehou kan word as ons oë op Jesus, die Begin en Voleinder van ons geloof gerig sal bly. Atlete wat omkyk-omkyk hardloop sal nooit eerste by die wenpaal aankom nie. In die wedloop van geloof is dit presies dieselfde: om hierdie wedloop te wen, is dit nodig om aan te hou en uit te hou en voortdurend net na Jesus te kyk. Net dán sal jy die wedloop van geloof as wenner kan voltooi.

“Weet julle nie dat atlete wat aan ’n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen,” skryf Paulus aan die gemeente in Korinte (1 Korintiërs 9:24). In ’n gewone wedloop is daar net één eerste prys, en daar is ook net een atleet wat die wedloop kan wen. Maar in die wedloop van die geloof is dit anders. In hierdie wedloop kan élke atleet ’n wenner wees, kan elkeen wat die wedloop hardloop, die prys ontvang. Maak seker dat jy só sal hardloop dat die prys van die geloofswedloop – die ewige lewe – uiteindelik joune sal wees.

Here, help my om my wedloop van geloof voluit te hardloop, met my oë heeltyd op U gerig sodat die prys uiteindelik myne sal wees. Amen

linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram