Vrug van die Gees 1: Liefde

Vrug van die Gees 1: Liefde

Xanthe Galanis

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Galasiërs 5:22-23 (a)

Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. Johannes 13:34

Paulus se lys van nege eienskappe wat 'n Christen definieer is seker een van die bekendste gedeeltes in die Bybel. Let egter daarop dat dit eintlik een vrug met nege verskillende aspekte is en nie nege verskillende vrugte nie.

In die Bybel word daar na drie verskillende tipes liefde verwys. Daar is die Griekse woord phileo wat broederlike liefde is. Daar is ook die Griekse woord eros wat verwys na die passievolle, erotiese liefde tussen 'n man en sy vrou. En dan is daar die Griekse woord agape wat die liefde is wat God vir ons het. Dit is die kragtigste van die drie liefdes en dit is die liefde waarna Johannes 13:34 verwys. Ons moet mekaar liefhê met dieselfde liefde waarmee God ons liefhet.

Agape is die liefde wat onselfsugtig gee sonder om iets terug te verwag, dit is 'n onvoorwaardelike liefde. Agape is 'n liefde wat meer na die wil as die emosie verwys. Agape beskryf God se onvoorwaardelike liefde vir die wêreld. Dit is nie per toeval dat dit die eerste eienskap is in die lys van die vrug van die Gees nie. Hoekom is liefde so belangrik in die lewe van Christus se volgelinge? Hoekom word liefde eerste genoem in die lys van die vrug van die Gees, soveel keer na verwys in die Bybel en so dikwels oor gepraat deur Jesus self? Sonder liefde is alles waardeloos. Ons plaas dikwels meer klem op geloof en werke as op liefde. Die feit is dat werke en geloof moet op liefde gebaseer wees. Wanneer ons goeie dade doen moet dit uit liefde en nie uit plig wees nie. Wanneer ons lofsange vir die Here sing, moet dit uit liefde vir Hom wees en nie omdat dit ons plig is nie.

Indien ons Jesus se gebod om mekaar lief te hê onderhou, sal die res wat ons beveel word om te doen as neweprodukte volg. Deur ons liefde sal hulle ons as Christene erken. Kom ons wys hulle.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U my onvoorwaardelik en volkome liefhet. Help my om deur u Gees ander ook so lief te hê. Amen

linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram