Vrug van die Gees 7: Getrouheid

Vrug van die Gees 7: Getrouheid

Xanthe Galanis

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Galasiërs 5:22-23(a)

Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon geeOpenbaring 2:10 (b)

Alle goeie verhoudings word gebou op getrouheid. 'n Vrou en man wat getrou is aan mekaar is noodsaaklik vir 'n goeie huwelik. In 'n goeie vriendskap is mense getrou aan mekaar. Goeie werksverhoudings vind plaas wanneer kollegas mekaar kan vertrou. Getrouheid is ook noodsaaklik in ons verhouding met God.

Ons verwys dikwels na die getrouheid van God. Wanneer ons 'n reënboog sien word ons daaraan herinner dat Hy getrou is en sy beloftes sal hou. Maar wat van ons eie getrouheid? Behalwe vandag se vers uit Openbaring is daar baie Skrifgedeeltes wat ons daarop wys dat ons getrou moet wees: 1 Korintiërs 4:1-2 wys ons daarop dat ons getroue dienaars van Christus moet wees, Efesiërs 6:21 verwys ook na getroue dienaars en in 1 Timoteus 5:9 word daar na getrouheid in die huwelik verwys.

Getrouheid, om altyd op God te vertrou, word dikwels gesien as iets wat ons doen. Baie mense dink aan getrouheid as 'n soort sinoniem vir vasberadenheid, 'n gesindheid wat ons kan aanleer eerder as 'n produk van die Gees van God wat in ons woon. Paulus maak dit egter duidelik dat getrouheid 'n geskenk van die Heilige Gees is.  Die Heilige Gees wat in ons kom woon wanneer ons ons sondes bely en tot bekering kom, verander ons karakter van binne en maak ons getrou.

Dit is slegs deur die Heilige Gees dat ons oor die liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid en goedhartigheid kan beskik wat ons as Christene behoort te hê.  Net so is dit net deur die Helige Gees dat ons die soort getrouheid kan hê wat ons in staat stel om volkome op God te vertrou, Hom te gehoorsaam en om altyd, wanneer ons verkeerd doen, ons sondes teenoor Hom te bely.

Gebed: Here, dankie vir u getrouheid. Leer my deur u Woord en help my deur u Gees om in alles getrou te wees. Amen

linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram