Vrug van die Gees 9: Selfbeheersing

Vrug van die Gees 9: Selfbeheersing

Xanthe Galanis

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.  Galasiërs 5:22

"Ek kan nie glo ek het dit al weer gedoen nie!"  Hoeveel keer het jy dit nie al vir jouself gesê nie? Ons probeer om ons woorde en aksies te beheer, maar daar is altyd daardie goed wat ons irriteer en dan gee ons toe aan die versoeking.  Almal, Christene en nie-Christene, voer lewenslank hiermee 'n stryd.  Maar die van ons wat Christus se geskenk van verlossing aangeneem het, beskik oor die krag om ons situasie te verander – aan ons is die krag bo alle menslike vermoë gegee.

Die finale aspek van die vrug van die Gees wat ons bespreek, is die vermoë om ons gedrag te beheer. Die Engelse King James Bybel gebruik die woord 'temperance' wat met 'matigheid' vertaal kan word.  Die Afrikaanse "Die Bybel vir almal" gebruik die woord 'kalm', maar die meeste Bybelvertalings, insluitende die Afrikaanse 1933/53- en die 1983-vertaling gebruik selfbeheersing.  Selfbeheersing is nie wilskrag nie. Dit is vasberadenheid om beter te doen.  Om egter van die "eie ek" te verwag om homself te beheer, is soos om van 'n jakkals te verwag om die hoenders op te pas, dit is nie iets wat natuurlik kom nie. Ons moet deur die Gees beheer word sodat God in ons kan regeer.

In die eerste brief aan die Korintiërs sê Paulus: "Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan." (1 Korintiërs 10:13) Hierdie gedeelte is genoegsame bewys dat ons heeltemal in staat is om hierdie aspek van die vrug van die Gees, selfbeheersing, in ons lewens te openbaar. Selfbeheersing beteken nie dat ons ons bes moet probeer om nie te sondig nie. Selfbeheersing, soos al die ander aspekte van die vrug van die Gees, word bekom deur ons lewens aan die Heilige Gees oor te gee.

Gebed: Vader, help my om die selfbeheersing wat U van my verwag, te beoefen. Ek wil nie terugval op my ou weë nie. Ek wil vir U leef. In Jesus se Naam. Amen

linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram