Wees bly, bid en wees dankbaar

Wees bly, bid en wees dankbaar

Xanthe Hancox

Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.  1 Tessalonisense 5:16-18

Ek wil eerlik wees – om altyd bly te wees, gedurig te bid en in alle omstandighede dankbaar te wees, is nie maklik vir my nie. Wanneer ek hierdie gedeelte lees, kan ek nie help om te wonder hoe op aarde kan daar van my verwag word om so te lewe nie?  Soms wonder ek of God werklik my omstandighede verstaan, want hierdie opdrag lyk gans onmoontlik!

Hierdie drie riglyne is deel van Paulus se finale instruksies aan die Tessalonisense. Hy herinner hulle aan hoe die Here se kinders behoort te lewe en dat ons omstandighede nie ons houding behoort te bepaal nie. Al drie die riglyne is deel van 'n volgehoue verhouding wat nog steeds ontwikkel.

Daar word dikwels gesê dat as jy wil weet hoe ryk jy is, moet jy 'n lys maak van alles wat jy het wat geld nie kan koop nie. Boaan my lys is verlossing, liefde en genade wat ek deur Jesus ontvang. Dan volg die gesin wat God aan my gegee het, my vriende, gesondheid en 'n waardering vir die mooi van die natuur om my. Die lys is eindeloos.  Ek het so baie om oor bly te wees.

Wanneer Paulus sê bid gedurig, verwys hy na 'n gesprek wat nooit regtig weer hoef te begin nie, want dit is nooit beëindig nie. Gebed is nie maar net 'n paar woorde wat ons prewel wanneer ons iets van God benodig nie, dit is 'n voortdurende gesprek met Iemand wat altyd by ons is.

Hoe is ons in alle omstandighede dankbaar? Paulus sê nie dat ons altyd bly moet wees oor alles wat met ons gebeur nie, maar dat dit vir ons moontlik is om deur alles wat met ons gebeur, dankbaar te wees. Ons kan die Here dank dat Hy in alle omstandighede by ons is, en aan ons krag skenk om in ons behoeftes te voorsien en genade om ons probleme aan te spreek. Ons kan bly wees wanneer dit goed gaan, maar ook wanneer die swaarkry kom.

Kom ons konsentreer vandag om voort te gaan met ons gesprek met God wat reeds begin het.  En kom ons vra Hom om ons te help om meer en meer bewus te wees dat die lewende God elke oomblik by ons is.  En kom ons wees daaroor bly en dankbaar.

Gebed: Vader, dankie dat U altyd by ons is. Help my om dit vandag meer te waardeer en meer van u teenwoordigheid bewus te wees. Help my om vandag voortdurend in gesprek met U te wees, en laat my blydskap en dankbaarheid in u teenwoordigheid vind. Amen

linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram