Werk hard

Werk hard

Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Christene behoort te werk. Miskien werk jy êrens vir 'n salaris, miskien versorg jy jou gesin of miskien is jy reeds afgetree.  Dit maak nie saak wat ons doen nie, ons mag nie lui wees nie.

Die Bybel leer ons dat wyse mense hard werk en die vrugte van hulle arbeid pluk; lui mense is dwaas en kom nêrens. Dis belangrik om deur eerlike werk in ons eie daaglikse behoeftes te voorsien.

In Spreuke word daar heelwat oor harde werk gesê. Een beeld wat koning Salomo gebruik om ons oor harde werk te leer, is die van die mier:

"Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy het nie 'n leier nie, nie 'n opsigter of 'n regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd. Hoe lank gaan jy nog lê, luiaard, wanneer gaan jy opstaan?" Spreuke 6:6-9

Hier volg nog 'n aantal tekste uit Spreuke wat dit duidelik stel om lui te wees gaan jou nêrens bring nie:

"Hardwerkende mense kom in magsposisies; lui mense word dwangarbeiders." Spreuke 12:24

"'n Deur bly op sy skarnier draai; 'n luiaard bly omdraai op sy bed."Spreuke 26:14

Die luiaard steek sy hand in die skottel, maar hy is te lui om dit terug te bring na sy mond toe."  Spreuke 26:15

Werk vandag tot eer van God.

Gebed: Here, help my om nie lui te wees nie. Gee dat ek hard sal werk tot eer van u Naam. Amen

linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram